Die vlakte-siel
deur Herman Labuschagne

 

Op so 'n dag het die Boesmans ges�, sal die son jou brein gaar brand in jou skedel, netsoos 'n volstruis eier.

 

Die dooie landskap lewe net omdat die hittegolwe nog kans sien vir die dans. En dan sien jy 'n vlakte-siel. Van ver af 'n dowwe spikkel wat oor die slagaar van die teerpad skuifel. En omdat die pad vervelig is ry jy stadiger sodat die kinders vir �n oomblik van stout wees kan vergeet.

As die vensters afrol val die hitte binne en ruk jou aan jou asem.

"Kan ons hom saamvat pappa!"

"Nee liefie, hy's te groot. En hy sal jou nat maak as jy hom optel."

"Ag seblieeeef pappa! Ek wou nog aaaaltyd een gehad het...!"

"Nee boeta. Kyk hoe oud is hy. Kyk hoe vaal is sy o�. Ons moet hom nie pla nie."

 

Die vlakte-siel kyk nie eers op nie. Hy is te oud om hom oor vandag of selfs oor m�re te bemoei, hierdie kaalkop skedel van die swart Karoo. Hy trek sy ou oumens-kop net effentjies in onder sy helmet, en steek na 'n rukkie die ou verrimpelde nek weer uit. "Vorentoe," hyg sy gloeiende verstand. Vorentoe na iewers want want hy is op pad na 'n ontmoetingspunt met tydloosheid. En jy laat hom maar begaan, terwyl die kinders lank by die die agtervenster na hom toe uitstaar met die wegry.

 

"Waar gaan hy heen, pappa?"

"Ek weet nie, liefie. Seker maar na die agterkant van verlangenheid," dink jy hardop. Jy weet hy is nou deel van 'n kinder-fantasie. Maar 'n lang ent verder soek jou o� tog nog in die tru-spieeltjie. En jy wonder self terwyl sy stippel wegbeur deur die huppelende hoogoond waar die hemel en die teerpad mekaar in 'n glas-spieeling uitkanseleer. In die Karoo is alles oud, behalwe die hart. Die hart bly altyd kind. Dis die enigste ding op daardie kale vlaktes wat ewig jonk bly.